‘n Meisie sonder ‘n naam
Lank voordat die Europeërs op die horison verskyn het, het die Khoi-Khoin reeds vir eeue lank oor die kusvlaktes en berge aan die suidpunt van Afrika beweeg. Hulle was nie doellose swerwers nie, maar ‘n trotse volk met ‘n diepgaande kennis van die land, die seisoene, en ook die waterbronne wat hulle veetroppe aan die lewe gehou het.
Autshumao (ǀAu-tsâma-ao), ook bekend as Harry die Strandloper, was ‘n Khoi-Khoin leier van die Goringhaicona-stam en een van die eerste inheemse mense aan die Kaap wat direk met buitelandse skepe handel gedryf het. Sy oorspronklike naam was Arri, net soos dié van sy eersgeborene, maar weens sy reise op die oop see het hy die naam Autshumao (hy wat saam met die visse rondswem) gekry.
Hy het ‘n komplekse rol gespeel in die vroeë interaksies tussen die Khoi en die onbekende reisigers uit ’n wêreld waarvan sy mense nie veel kennis gedra het nie.
Rondom 1631 het Autshumao met ‘n Britse skip na Bantam, Java gereis. Die rede vir hierdie reis was om meer te leer oor hoe hy suksesvol ‘n bemiddelaar vir verbygaande skepe kon wees. Sy plan was om ’n hawe te skep. Die Britte het reeds ‘n handelspos in Bantam, nou deel van Indonesië gehad, en het moontlik gedink dat Autshumao se betrokkenheid aan die Kaap hulle kon help om ‘n strategiese handelsroete daarheen te vestig.
Die blootstelling in Java het hom ’n idee gegee oor hoe die Europese handelsnetwerke gewerk het, hy het ook daar ’n basiese begrip van Engels en Nederlands ontwikkel en het later hierdie kennis gebruik om ‘n rol as tolk en handelaar te speel. Wanneer skepe aangekom het, het Autshumao Europese drag aangetrek en selfversekerd met die skepe se kapteins onderhandel. Dit het daartoe gelei dat die Engelse en Franse hom ‘Goewerneur’ begin noem het.
Ná sy terugkeer in 1632 het Autshumao ‘n handelspos op Robbeneiland begin, waar hy en sy mense sout, vars water en vee aan Europese skepe verskaf het. Hierdie vroeë handel was lank voor die formele vestiging van die Nederlanders in 1652. Teen 1638 het hy en sy klein handelsgemeenskap van ongeveer 60 persone hulle weer op die vasteland waar die Camissarivier in die see geloop het, gevestig.
In die daaglikse bestaan van die Goringhaicona was die Camissarivier ’n bron van lewe—’n plek van oorlewing. Vandag vloei dit, vergete en gekanaliseer, onder beton en geboue deur. As mens stil raak en luister, is dit asof daar nog fluisteringe van die verlede onder daardie strome bly leef.
In baie kulture verteenwoordig ’n rivier meer as net water— dit is ’n grens tussen wêrelde. Die antieke Grieke het na Styx verwys, ’n donker stroom wat die wêreld van die lewendes van die van die dooies geskei het. Vir my, in die konteks van Krotoa se verhaal, voel die Camissa soms soos só ’n rivier— omdat die stilte rondom haar waarheid só diep en soms ondeurdringbaar voel. Sou die rivier vandag kon praat, het dit dalk die verhale gedra van dié wie se stemme verlore gegaan het.
Toe Jan van Riebeeck in 1652 arriveer, het Autshumao verwag dat hy sy bestaande rol as bemiddelaar kon voortsit, maar die VOC het in ‘n baie meer eksklusiewe beheer oor hulpbronne belanggestel. In ’n inskrywing uit die joernaal wat vir die VOC gehou is, noem van Riebeeck dat Autshumao daarop aangedring het dat hy die stigter van die rudimentêre hawe/handelspos was. Daar is geen rede om daarin te twyfel as jy kyk na die data van die Huygens Instituut vir die Geskiedenis van Nederland, wat alle Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie-skeepvaart tussen Nederland en Asië van 1595 -1795 insluit nie. In Patric Tariq Mellet se navorsing lig hy ook uit dat in hierdie databasis, 8 500 skepe aangeteken is wat in daardie tydperk van Nederland na Asië gevaar het. Die databasis toon ook dat 995 skepe, van Nederland alleen, tussen 1600 en 1652 na Asië en terug gevaar het via die Kaapse seeroete. Uit hierdie skepe het slegs 34 bevestig dat hulle nie in die Kaap aangedoen het nie.
Benewens die gereelde verkeer in en uit die hawe, weet ons van minstens twee noemenswaardige skeepswrakke aan die Kaap. In 1644 het die Mauritius Eiland met 240 oorlewendes gestrand wat informeel vir vier maande in Tafelbaai gewoon het. Die ware geskiedenis van ‘n Nederlandse nedersetting het in Maart 1647 met die skipbreuk van die Nederlandse skip, Nieuwe Haarlem begin. Die oorlewendes het ‘n klein fort gebou met die naam Sand Fort van die Kaap die Goeie Hoop. Hulle het byna ‘n jaar daar gebly voordat hulle deur ‘n vloot van 12 skepe onder bevel van W.G. de Jong gered is.
Kaptein Leendert Janzsen, Matthijs Proot and Jodocus Hondius III, ’n wetenskaplike, het op hul vaart terug na Holland ‘n verslag vir die VOC opgestel oor hul verblyf aan die Kaap.
Hulle skryf:
“Die inboorlinge het met alle vriendelikheid gekom om met ons handel te dryf… hulle het beeste en skape in groot getalle gebring… Ja, dit is waar dat sommige van ons soldate en matrose deur hulle doodgeslaan is, maar dit het met goeie rede gebeur, sodat sulke optrede deur die inboorlinge geregverdig is. Aangesien die rede wat tot die vergelding gelei het, soos altyd deur ons mense verswyg word. Ons glo vas dat as die boere in hierdie land – die Nederlandse State-Generaal – moes beleef het dat hulle vee geskiet of sonder betaling weggeneem word, en hulle geen beskerming van ‘n georganiseerde regstelsel gehad het nie, hulle niks anders sou opgetree het as wat hierdie inboorlinge opgetree het nie.
Die inboorlinge is ‘n volk sonder instellings of regeringsvorme soos dié van Indië, maar hulle is vredeliewend en vatbaar vir onderrig. Daar was geen twyfel dat die inboorlinge die Nederlandse taal kon aanleer nie, en dat hulle met verloop van tyd ook in die Christelike godsdiens onderrig kon word.”
Aan boord van dieselfde skip waarmee Kaptein Janzsen en sy geselskap terug gereis het, was die onteerde VOC-handelaar van ‘n Nederlandse fabriek in Tonkin, Viëtnam – Jan van Riebeeck. Hy is daarvan beskuldig dat hy betrokke was in persoonlike handel, wat as diefstal vir die VOC gesien is. As amptenaar wat in onguns was by die VOC het hy groot belangstelling getoon in Janzsen se voorstel: dat die Nederlanders ‘n permanente vestiging by Tafelbaai moes oprig.
Tydens die drie weke-lange verblyf in Tafelbaai het Jan van Riebeeck ’n gevoel vir die omgewing gekry en met ander oorlewendes gesels. Sy opsomming was egter die teenoorgestelde van dié wat Janzsen en Proot in hul verslag geopper het. Sy eie persoonlike gevoel oor die inboorlinge was geensins positief nie.
Saam met die verslag het Janzsen en vyf van sy senior beamptes ’n voorstel opgestel vir ’n permanente Nederlandse teenwoordigheid by Tafelbaai wat die goedkeuring van die VOC se Here Sewentien gekry het.
Matthijs Proot wat ’n sterk kandidaat was om die vestiging te lei, het besluit om nie van die geleentheid gebruik te maak nie. Van Riebeeck, beskryf as iemand met ‘n plofbare mengsel van eienskappe – ’n vurige humeur, vasberadenheid, onuitputlike energie, grensoorskrydende ywer en ’n behoefte om homself by die VOC te rehabiliteer, het aangebied om die vestigingsekspedisie te lei.
Die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie het opdrag gegee om ‘n formele handelspos aan die Kaap op te rig en in 1652 kom die groep van 90 Calviniste dan ook onder die bevel van Jan van Riebeeck, in die Kaap aan.
Hierdie gebeure en die gereelde handel met skepe wat Tafelbaai en Robbeneiland aangedoen het, laat ‘n mens besef dat daar al ‘n wesenlike mate van kommunikasie moes bestaan het tussen sekere lede van die plaaslike gemeenskap en die “vreemdelinge van oor die see”.
Onder hierdie plaaslike gemeenskap was ’n meisie met die naam !Oroǀõas–‘n dogter uit ‘n aansienlik eenvoudiger wêreld wat reeds lank bestaan het, maar wat binnekort onherroeplik sou verander. Haar storie is nie net dié van ‘n individu wat tussen wêrelde moes balanseer nie, maar ook ‘n verhaal van verlies, oorlewing en die onsigbare grense tussen kulture. Iemand wat haar eie pad gekies het en in die proses ook die roete van baie ander oorlewerings beïnvloed het.
In Nederlands is haar naam na Krotoa/Kroket vertaal.
!Oroǀõas beteken “Ward-girl” en die ironie hierin kan nie misgekyk word nie. Die woord “ward” kan op soveel verskillende wyses ’n lêplek in haar vind. Dit kan haar beskryf as iemand wat as beskermer uitgewys is, iemand wat sou waak oor ‘n sieke en heling bewerkstellig. Dit kan egter ook wys op iemand wat beskerming en versorging nódig gehad het. Krotoa is as baba wees gelaat en is onder die sorg van haar oom Autshumao geplaas, maar sy het tog nie eers op daardie stadium vir die eerste keer ’n naam gekry nie.
Die feit is, Krotoa se werklike naam is heeltemal onbekend aan ons, niemand sal ooit weet wat dit werklik was nie.
Daar is vir my nog so bietjie simboliek in die oorvertaling van haar naam in Nederlands. Kroket het later ‘n gewilde Nederlandse dis geword. ‘n Hard gebraaide buitekors met die verrassing van ’n sagte vleismengsel aan die binnekant—soos Krotoa se binneste ook ’n mengsel was, saamgestel uit twee wêrelde en bymekaar gehou deur ’n verharde buitekant.
As Afrikaans jou moedertaal is behoort jy ook al deur jou lewe te gehoor het hoe die Engelse woord “Crochet” skielik kroket uitgespreek kan word. Hierdie toevalligheid bring ’n subtiele, maar diep betekenisvolle laag by vir my— sy was maar net die garing wat twee dele saam moes weef om iets nuuts te skep…
Toe Krotoa as diensmeisie in Jan van Riebeeck se huishouding ingeneem is, was haar aanvanklike rol om vir Maria van Riebeeck te werk en na hul kinders om te sien. Maar dit sou nie lank duur voordat haar ware potensiaal na vore sou kom nie. Haar skerpsinnigheid en merkwaardige vermoë om tale aan te leer, het Krotoa gou in meer as net ‘n diensmeisie verander. Sy het nie net onder andere Nederlands en Portugees bemeester nie, maar ook ‘n diep begrip van diplomatieke en handelsverhoudings ontwikkel. Sy was van onskatbare waarde vir die VOC en dit het haar rol vinnig laat verander van ‘n gewone diensmeisie na een van ‘n invloedryke tolk en bemiddelaar tussen die Nederlanders en die Khoi-Khoin.
Hierdie skuif in haar posisie was nie net bewys van haar vermoëns nie, maar ook ‘n aanduiding van hoe dringend die Nederlanders ‘n brug tussen hul wêreld en dié van die inheemse bevolking nodig gehad het. Krotoa het hierdie rol met vaardigheid vervul, maar dit het haar ook vasgevang in ‘n posisie wat later groot persoonlike uitdagings sou meebring—een waar wantroue geskep is aan albei kante wat sy wou dien.
Jan van Riebeeck, Maria en ook die ander Nederlanders aan die Kaap het haar Eva genoem.
Ek weet dat sommige navorsing daarop wys dat sy hierdie naam eers gekry het nadat sy op 3 Mei 1662 die Christelike geloof aangeneem en gedoop is, maar van Riebeeck verwys reeds in 1654 na haar in sy briewe aan die VOC en ook met sy inskrywings in sy joernaal, as “Die meisie Eva”
’n Inskrywing deur van Riebeeck se sekretaris op 31 Oktober 1657:
“Die Kommandeur [Jan van Riebeeck] het die dag deurgebring om die Saldanhars (’n Khoikhoi-stam uit die binneland) te onthaal en hulle oor verskeie sake uit te vra deur middel van ’n sekere meisie van ongeveer 15 of 16 jaar oud, wat deur ons Eva genoem word. Sy is van die begin af in diens van die Kommandeur se vrou en woon nou permanent hier en praat goed Hollands.”
In H. C. V. Leibbrandt, Suid-Afrika se eerste staatsargivaris, se publikasies wat hy saamgestel het met die hulp van historiese dokumente uit die Kaapse argief, het hierdie inligting meer toeganklik gemaak aan die publiek. Leibbrandt se oorvertalings na Engels was ook van groot waarde vir Engelse lesers wat die sewentiende-en agtiende-eeuse Hollandse dokumente nie kon baasraak nie. In een van sy werke, “Précis of the archives of the Cape of Good Hope, Journal , 1662 – 1670”, kry jy ’n baie helder prentjie van gebeure en al is die inligting soms verkeerd opgeneem deur lesers, en dan ook weer verder verkeerd aangeteken, kan ons dit nou regstel met die nodige bewyse.
Op die eerste bladsy is die opskrif “Journal, May 8, 1662 (Zacharias Wagenaer) en dit begin vertel, in die vorm van die oorspronklike joernaal/dagregisters, van die daaglikse lewe en gebeure aan Cabo de Goede Hoop. Nêrens in die skrywe word ‘n duidelike nuwe hoofstuk aangedui, wanneer daar inderdaad liewer ‘n hele bladsy omgeslaan moes word nie. Die gevolg was dat die verhaal net aanhou lees het, sonder die nodige aankondiging dat wat gister gebeur het, nie noodwendig vandag verder afspeel nie.
Zacharias Wagenaer was van Riebeeck se opvolger as kommandeur en hy en sy gesin het in 1662 in die Kaap aangekom, waarna van Riebeeck en sy gesin weer vertrek het. Al die gebeure tussen die eerste inskrywing, regdeur tot die laaste, kan nie net aan Wagenaer gekoppel word nie.
Wagenaer se vrou is vroeg in 1666 oorlede en teen September 1666 het hy reeds bedank en op 29 September 1666, aan boord van die Dordrecht, saam met sy stiefdogter, na Batavia vertrek. Wagenaer se betrokkenheid aan die Kaap eindig dus hier. Sy opvolger was Kommandeur Jacob Borghorst wat in beheer was tot en met 1670. Die grootste negatiewe verbintenis tussen die regerende kommandeur en Eva het tydens Borghorst se ampstermyn afgespeel.
Maar laat ons eers weer teruggaan na die tydperk rondom Jan van Riebeeck en sy familie se vertrek uit die Kaap:
Eva is op die ouderdom van 22 gedoop, en dit op haar eie versoek. Teen daardie tyd het sy goed besef dat die doop haar nie net die status van ‘n vryburger sou verleen nie, maar ook ‘n mate van beskerming sou bied. Haar verhouding met Jan van Riebeeck het reeds teen daardie stadium begin versuur, en hy het selfs sy opvolger gewaarsku dat sy nie altyd as ‘n betroubare tolk tussen die Nederlanders en haar eie mense gesien kan word nie—dat haar vertolkings soms haar eie agendas kon dien. Wat haar eie agenda was, is nie duidelik nie, maar dit het dieselfde gevoel by haar eie mense laat ontstaan. Die laaste inskrywing waarin van Riebeeck na Eva verwys het, is op 26 Januarie 1661 gemaak waarin hy Eva se terugkeer na sy huishouding genoem het. Hy merk op hoe sy die Nederlandse gewoontes weer aangeneem het en gewillig was om haar rol as tolk te hervat. Hierdie het gebeur na een van die vele kere wat sy weggeloop het en terug is na haar stam. Die verwagtinge wat haar rol gebring het, was soms te oorweldigend en ook veeleisend.
Op 3 Mei 1662, word sy gedoop, slegs vyf dae voordat die Van Riebeecks die Kaap permanent verlaat het.
In Februarie 1664, word Eva se verlowing aan die Europese chirurg, Pieter van Meerhoff, aangekondig. Hierdie verbintenis, net soos haar aanneming van die Christelike geloof, het uitgestaan. Sy was die eerse inheemse vrou wat plaaslik as Christen gedoop is en haar huwelik was ook die eerste Christelike huwelik tussen ’n Europeër en ’n inheemse vrou aan die Kaap — ’n unieke en baanbreker unie, maar ook, so glo ek, die begin van haar einde.
V.C. Malherbe beskryf dit treffend deur te sê: “Krotoa het haar in gevaarlike waters begewe — op die grens tussen die Kaap se veewagters en die magtige Europese handelsmark.”
Deur al die inligting weet ons vandag haar ondergang was nie net gekoppel aan hierdie magsbalans nie, maar veral ook aan haar identiteit as ’n Christelike, Nederlands-sprekende inheemse vrou wat liefgehad het. Ja, sy het liefgehad. Sy is nie afgesmeer aan Pieter van Meerhoff teen haar wil nie.
Vanaf die ouderdom van sewe is sy in Van Riebeeck se huishouding opgeneem, waar sy grootgeword het as deel van die koloniale wêreld. Vroeg in haar lewe is sy reeds gekondisioneer om die belange van die koloniale magte te dien — nie net as tolk nie, maar ook as bemiddelaar tydens ’n era van vinnige uitbreiding. Dit het beteken dat sy haar sosiale en kulturele gewoontes moes aanpas: sy sou soms in haar tradisionele inheemse drag op besoek aan haar familie verskyn, maar by terugkeer na die fort, weer haarself vinnig in haar Westerse kleredrag klee om hulde te bring aan die koloniale verwagtinge.
Uiteindelik, op 2 Junie 1664, op Tweede Pinksterdag, is die huwelik tussen Pieter van Meerhoff (27) en Eva (21) in die kommandeurswoning in die fort voltrek. Volgens ‘n vorige ooreenkoms is daar ook ’n klein huweliksfees vir hulle gehou.
In baie opsigte sou hierdie huwelik, haar liefde vir, en trou aan Van Meerhoff, een van die grootste bydraes tot haar tragiese lot word.
Eva, haar man, van Meerhoff, en hul twee kinders het hulle op Robbeneiland gevestig waar Pieter as superintendent van die gevangenis aangestel is. Sy avontuurlus het hom egter gedurig van die eiland weggeneem en in 1668 vertek hy saam met ‘n groep na Madagaskar om handel te dryf en ook slawe te bekom. Op 27 Februarie 1668 kom twee skepe vanaf Mauritius en Madagaskar by die Kaap aan. Volgens opdrag het hulle by Antongilbaai in Madagaskar aangedoen om handel te dryf namens die VOC. Daar kry hulle die nuus dat Pieter van Meerhoff en agt van sy manne deur die plaaslike bevolking tydens hul besoek vermoor is. Hulle is aangeval toe hulle slawe gevange wou neem om na die Kaap te bring.
Die nuus word oorgedra aan Eva en haar wêreld het op daardie oomblik in meer as een opsig inmekaar getuimel. Pieter was haar huis. Op 21 September 1668 is ’n boot na Robbeneiland gestuur om Eva en haar kinders terug te bring na die vasteland, waar hulle voortaan in die fort sou woon. Teen skemer van 30 September het die boot met hulle daarin teruggekeer. Die ou pottebakkerswerkswinkel binne-in die fort is vir haar en die kinders as ’n woning voorberei en ingerig.
Niks was meer dieselfde nie en tog ook, presies soos sy haar lewe geken het. Haar eie stam het haar as ’n verraaier beskou—iemand wat hul vertroue verbreek het deur haar verbintenis met die Nederlanders. Sy was nie meer een van hulle nie. Terwyl haar mense haar verwerp het, het die Nederlanders, vir wie sy in ’n mate haar identiteit prysgegee het, haar ook verstoot—juis toe sy op die donkerste plek in haar lewe was. Ons kan egter nie haar ongeluk en die gevolge van haar optrede net voor die deur van die Nederlanders óf haar eie mense lê nie—sy het immers ook gewigtige keuses van haar eie gemaak. Ons kan haar nie as ’n baanbreker of ’n formidabele vrou beskryf en terselfdertyd haar ondergang uitsluitlik aan ander toeskryf nie, dit sou net eenvoudig geen sin maak nie.
Eva het vasgevang gebly tussen twee wêrelde—té Hollands vir haar eie mense, maar dalk steeds té “Hottentots” vir die Europeërs. Hierdie ontworteling het haar tot ’n eensame, afwaartse pad gelei. Uitgesluit en sonder enige ware anker, het sy haar toevlug tot drank en prostitusie geneem—waarskynlik uit die desperate behoefte om bloot te oorleef in ’n samelewing wat haar nie wou hê nie.
Haar selfvernietigende gedrag het die steun wat sy by die Nederlanders gehad het, vernietig. Dit is maklik om te sê dat sy nooit terug aanvaar is na die dood van haar man nie, maar dan gaan ons weereens ander feite moet ignoreer en aanpas om daardie stelling te bewys. Sy is terug ontvang, daar is vir haar ‘n tuiste ingerig en sy het etes aan huis van die kommandeur bygewoon, maar dit was ongelukkig ook hier waar haar nuwe leefwyse in die teenwoordigheid van ander geopenbaar is. Uiteindelik het hulle haar verstoot en haar van haar kinders probeer skei. Op die ou end het sy die simbool geword van ’n grensbestaan—’n vrou wat nie meer aan enige wêreld behoort het nie. Vir meeste was sy tot op daardie stadium die sterk klippad wat uitgelê is oor ‘n brug, ’n pad waarop hulle gemaklik kon oorstap tussen kulture en tale, maar hierdie brug se voete het in té onstuimige waters gestaan en ware aanvaarding, van beide kante, was haar nooit beskore nie.
Dit is belangrik om te verstaan dat die kommandeur en sy amptenare nie wangedrag of teenstand, van wie ook al, geduld het nie. Die wet en orde in daardie tyd was hard en onverbiddelik. Enigeen— inboorling, slaaf, vryburger of amptenaar, wat hom aan ernstige misdade skuldig gemaak het, is streng gestraf. Doodsvonnisse was nie ongewoon nie, en verskeie mense is ter dood veroordeel vir misdade soos moord, verraad of ernstige diefstal. Niemand was bo die wet nie. Hierdie konteks help ons om te verstaan dat Eva, ten spyte van haar unieke posisie, uiteindelik aan dieselfde streng koloniale reëls en strawwe onderwerp is as enige ander inwoner van die Kaap.
Die volgende is uittreksels uit die joernaal van die Kommandeur:
“Daardie middag is sy ook ernstig aangespreek weens haar oormatige dronkenskap en skandelike gedrag in die saal en by die Kommandeur se etenstafel. Sy is gewaarsku om haar lewe te verbeter, meer beskaafd te leef en skandelike optrede te staak. Sy het met allerhande mans verkeer, veral saans. As sy nie sou verander nie, sou haar kinders van haar weggeneem word en sy self na ’n eiland verban word.”
Eva het ongelukkig geen poging aangewend om haar omstandighede te verbeter nie. Alles dui daarop dat sy teen hierdie tyd reeds moed opgegee het. Ek glo nie sy het enigsins enige motivering oorgehad om haar lewe om te draai nie—haar pogings sou waarskynlik in elk geval verniet gewees het, vasgedruk teen ’n stelsel wat haar van alle kante af verwyt het. Uiteindelik het sy haar oorgegee aan die enigste ontsnapping wat sy nog geken het— drank en ’n selfvernietigende lewenswyse.
8 Februarie 1669 – “Teen die aand het die drie kinders van die ontslape Pieter van Meerhoff, en sy vrou, Eva, kaal en verlate in die saal opgedaag. Die oudste het vertel dat hul moeder weer eens dronk was en, saam met al haar huishoudelike goed en beddegoed die strate in is. In die huis wat vir haar ingerig en gemeubileer is by die ou pottebakkery, het sy niks agtergelaat nie — geen kos, geen klere of enigiets anders nie.
Toe daar nou die aand berig ontvang word dat sy weereens weggeloop het, en ons hierdie arme kinders so hulpeloos sien staan het, het ons — met inagneming dat die kerkraad alreeds vroeër besluit het om die kinders van hierdie dronk vrou weg te neem — besluit om ’n ordentlike en gerespekteerde vryburger te soek wat hulle gratis sou huisves en versorg.
“Voor donker is die kinders toe toevertrou aan Jan Reyniersz, ’n diaken van die kerk, en sy vrou — mense met ’n eerlike en godvresende karakter. Die huis waarin Eva gewoon het saam met haar kinders is terselfdertyd behoorlik beveilig en toegesluit.”
10 Februarie 1669 – “Op hierdie Sondag is ’n pragtige preek op die skip Zierikzee gelewer. Daardie middag het Eva, wat sedert haar verdwyning haar kinders verwaarloos en ’n losbandige lewe gelei het, groot opskudding in die omgewing veroorsaak. Sy was dronk en het so ’n lawaai gemaak dat iemand amper doodgeslaan is, maar gelukkig die hou kon afweer.
Die Fiskaal het opdrag gekry om haar op te spoor en in aanhouding te neem. Hy het haar later dronk, met ’n pyp in die mond, op straat gekry waar sy gelê het. Op vrae oor haar kinders en haar goed het sy spottend geantwoord en erken sy het haar verebed vir tabak verruil en haar geld aan drank uitgegee. Net ’n bondeltjie kindersklere en ’n paar van haar eie goed het oorgebly, wat sy in ’n bos weggesteek het.”
Vanweë haar gedrag is sy daardie aand opgesluit.
26 Maart 1669 – “Eva, wat vir ’n geruime tyd in die tronk aangehou is by die fort, oor haar goddelose lewe, is uiteindelik na Robbeneiland geneem toe die skip De Bruydegom daarheen vertrek het om skape vir die skepe te gaan haal.”
Nadat Eva na Robbeneiland verban is, het sy een of twee keer die vasteland besoek na die geboorte van buiteegtelike kinders, om hulle te laat doop, maar sterf op 29 Julie 1674 op die eiland op die ouderdom van 32 jaar.
Die inskrywing in die joernaal lees:
29 Julie 1674 – “Op hierdie dag het ‘n sekere Hottentoo-vrou, genaamd Eva, wat lank gelede in haar kinderjare van haar stam weggestuur is deur haar Oom, en weggevoer is deur die Edele van Riebeeck, hierdie lewe verlaat…”
Hier is waar ons aan ’n ongelooflike belangrike deel van haar verhaal moet raak — die manier waarop geskiedenis verdraai of vereenvoudig is om ’n storie te laat pas wat mense vandag wil vertel, sonder om die werklike feite en die chronologie in die spesifieke tyd te respekteer. Dit is waarom hierdie vir my so belangrik is — dis nie net ’n genealogiese of historiese aanhaling nie, maar ’n regstelling van ’n narratief wat al te gemaklik as waarheid aanvaar is.
Wat my dadelik getref het is hoe simboliek en feite hier so swaar teen mekaar bots:
Tydens ‘n onlangse formele plegtigheid is Eva se siel gebind aan die Kasteel. Dalk omdat dit ’n sterker visuele en emosionele effek gee — die Kasteel is imposant en tasbaar, maar tog, ook ‘n monument van kolonialisme? Haar naam en nagedagtenis is op ’n plek verewig waarmee sy in haar leeftyd géén werklike verbintenis gehad het nie. Eva kan nie die Kasteel wees nie, en die Kasteel kan nie Eva se lewe of pyn verteenwoordig nie.
Daar is nie regtig humor hierin te vinde nie, maar verbeel jou tog dat sy daar op die houtbankie in die Kasteel sit. Die bankie wat ter ere van haar daar aangebring is op ‘n plek waar hulde aan haar gebring word, terwyl sy seker wonder wat presiés dit is wat sy daar doen?
Uittreksel uit ’n artikel oor die plegtigheid:
”Gathered around a tree at the Groote Kerk, they burned an incense plant and beckoned for her soul to rise from the unmarked grave where her bones had been held.
Her remains had been removed from the grounds of the Castle of Good Hope, nearly a century after she was buried there.
On Friday, some of her descendants returned with her spirit to the castle.
This coincided with the 350th commemoration of the castle and a Women’s Day military parade.
Defence Minister Nosiviwe Mapisa-Nqakula, custodian of the castle, first laid a wreath at the church and then at the castle.
She unveiled a wooden bench in Krotoa’s honour and addressed the crowd on the Khoi woman’s struggle.
Krotoa, still a child, worked as a servant in Van Riebeeck’s household.
Fluent in Dutch, English and Portuguese, she was said to be instrumental in working out terms for ending the first Dutch-Khoi war in the Cape.
She was baptized and given the name Eva, married off to Danish surgeon Pieter van Meerhof.
He was killed in a slave hunt in Madagascar and when Krotoa returned to the Dutch Colony to reclaim her status, she was declined.
She was later banished to Robben Island and her children sent to Mauritius.
Her life depicts pretty much the example of millions of women in our country, but Krotoa didn’t wallow in self-doubt and rose to distinguish herself as a pioneer,” said Mapisa-Nqakula.
“It is my wish that all of us, and young women in particular, make it a point to learn from this incredible resilient woman whose true account of her life was never told.”
Some protesters dressed in traditional garb stood outside the castle.
They questioned why not all Krotoa’s descendents were allowed inside, why she was being returned to the castle, and why the defence and military forces were there.
Mapisa-Nqakula said there was nothing wrong with the demonstration as it was people asserting their identity and history.
“If anything, it further buttresses that which we are talking about, that we must tell the true South African story.”
What is important to me is that Krotoa’s spirit was repatriated to a place, now a sacred ground, where she suffered her pain.”
Eva se pyn en haar lewe het elders afgespeel — in die ou fort, in die klein nedersettings, tussen bekendes, op die strand en op Robbeneiland… nie in die latere Kasteel nie.
Hierdie verdraaiing ontneem haar van daardie vrede wat sy kon vind en vervang haar werklike storie met ’n moderne, romantiese of spirituele vertelling wat nie op feite berus nie. Haar storie móét vertel word… maar nie só nie. Die ou fort mag dalk nie meer bestaan nie, maar ons kan nie, bloot ter wille van ’n mooi gebaar, nuwe geskiedenis fabriseer nie.
Dit is waarom ons hierdie moet uitlig—dat die waarheid nie altyd lê in die oorvertellings van vandag nie, maar in die fyn detail van haar werklike lewe, dít wat ons uit die oorspronklike bronne terug kan vind. Dit is ook iets wat beide kante eerlik behoort te erken—nie net die dele wat inpas by ’n gemaklike narratief, of wat die skuld altyd in ‘n rigting stuur nie. Daar kan altyd ‘n vinger gewys word, maar tog slegs wanneer iemand die besluit neem om sy hand op te lig.
Voordat Eva na die eiland verban is op 26 Maart 1669, is sy aangehou in die tronk wat op daardie stadium nog in die ou fort was. Net soos die Kommandeur se woning in die fort bekend gestaan het as “De Kat” en die balkon by die Kasteel later dieselfde naam gekry het, so was daar ’n “Donker Gat” in beide die fort en die Kasteel. ’n Verwysing na hierdie plek van aanhouding beteken nie outomaties dat dit in die Kasteel was nie.
Die Kompanjie het reeds in 1664 opdrag gegee dat die ou fort vervang moes word met ‘n veiliger plek wat meer bestand sou wees teen die ontstuimige weer asook ‘n moontlike aanval tydens die dreigende oorlog tussen Groot-Brittanje en Nederland. Vandag is dit interessant om te weet dat daar nooit enige aanval op die Kasteel was nie, geen wapen is ooit in die rigting van sy mure afgevuur nie.
Die terrein vir die nuwe fort, die Kasteel De Goeie Hoop, is in Augustus 1665 uitgesoek en uiteindelik, na vyf maande, is die uitgrawings voltooi. Op 2 Januarie 1666 is vier hoekstene onder andere deur Kommandeur Wagenaer, die predikant, Johannes van Arckel en die landmeter, Hendrik Lucas gelê.
Twee weke later is van Arckel oorlede en was hy die eerste persoon wat in die nuwe Fort begrawe is. ’n Gebou is oorspronklik opgerig as stoor, maar die behoefte aan ‘n groter plek om te vergader, wat beskud was, het hulle laat besluit om die vloere eerder met klip uit te lê en dit as kerk te gebruik.
3 Januarie 1666 – “Teen skemer is ons voorgemelde predikant, van salige nagedagtenis, met groot statigheid en ’n groot skare rouklaers na sy graf begelei. Die graf, wat op sy eie versoek as die eerste een gegrawe is, was geleë buite op die oop vlakte van die Nuwe Fort, binne die groot, nuutgeboude Houtkerk. Hierdie gebou was reeds ’n maand tevore bestem om as kerk te dien en sal voortaan vir daardie doel gebruik word. Die gebou is van’n klipvloer voorsien, aangesien die saal in die Ou Fort, waar die dienste tot dusver gehou is, te klein geraak het vir die groot gemeenskap.”
Begrafnisgebruike uit vervloë dae het ‘n belangrike rol deur die eeue heen gespeel en in Suid Afrika was dit natuurlik baie nou aan Nederlandse tradisies verbind. Alhoewel baie van die gebruike nie presies so voortgesit is nie het sommiges behoue gebly en bewyse daarvan is tot vandag nog sigbaar. Twee van hierdie gebruike was om met die dood van ‘n persoon muntstukke op die oë van die oorledene te plaas. Nie lank gelede nie, met uitgrawings in Kaapstad, is bewyse hiervan steeds gevind. Een ander gebruik was om vooraanstaande persone binne-in ‘n kerk te begrawe. Hierdie is weer eens belangrik om in ag te neem as die daginskrywings gelees word. Vooraanstaande persone en mense wat ‘n belangrike rol in die samelewing gespeel het, is as gebruik in die binnekant van die kerk begrawe. Daar is grafkelders in die kerk gebou om voorsiening daarvoor te maak. Sommige van hierdie grafkelders kon tot nege kiste huisves. So het Kommandeur Wagenaer se vrou, Anna Auxbrebis, ook daar haar rusplek in 1666 gevind. Kommandeur Piet Hackius sterf op 30 November 1671 en teen 1678 was die Houtkerk reeds weer te klein. ‘n Nuwe deel reg buite die kerk is uitgewys om voortaan as begraafplek te gebruik, maar die tradisie om oorledenes in die kerk te begrawe het egter voortgegaan. Ek raai dat daar teen daardie tyd besluit moes word wie regtig belangrik genoeg was om in die kerk self neergelê te word en wie dan eerder buite in die kerkhof begrawe sou word.
Ons kan natuurlik nie vergeet dat Eva van Meerhoff in 1674 in hierdie selfde grafkelder begrawe is nie. Nie almal was ewe gelukkig met hoe dit afgespeel het nie en die inskrywing vir die dag van haar begrafnis lees:
“Die liggaam van die oorlede weduwee Meerhof is, ten spyte van haar onchristelike lewe, vandag volgens Christelike gebruik begrawe in die kerk van die nuwe Kasteel.”
Dit bly ironies hoe hulle steeds na die “nuwe” Kasteel kon verwys terwyl die Houtkerk teen hierdie tyd nie meer die kapasiteit gehad het wat nodig was nie en sy leeftyd reeds bereik het. Die bouwerk aan die Kasteel self was nog nie eers voltooi nie, maar die dele wat wel klaar gebou was, was reeds ten volle benut. Dit het lank geneem om by die regte inligting uit te kom, as jy deur die joernale lees en sekere stukkies net eenvoudig nie bymekaar wou inpas in die tydlyn van die bou van die Kasteel nie.
Daar is op 2 Mei 1674 opdrag gegee om die ou fort af te breek nadat die bouwerk tot ‘n punt gevorder het waar meeste van hul voorraad en wapens in die Kasteel gestoor kon word. Op dieselfde dag wat die fort ontruim is, is opdrag gegee om die ou struktuur te vernietig. Vandag is die presiese plek waar die fort eens gestaan het, die Parade en strek tot waar die OK-gebou tans is.
Dit is amper ongelooflik om te dink dat die oorspronklike ingang van die Kasteel, die ‘Waterpoort’, voorheen tussen die bastions Buuren en Katzellenbogen was. Hierdie ingang is geskuif omdat die watervlak, tydens hoogwater of springgety, toegang tot die kasteel onmoontlik gemaak het. Tydens ’n tipiese Kaapse storm sou die water hoog teen die mure van die Kasteel gebreek het. Vandag, na grondherwinning, staan die kasteel amper 1 kilometer van die kuslyn af weg.
Terug by die oorvol kerk.
Daar is besluit om ’n stuk grond vir die oprigting van ’n groot nuwe kerk en ’n begraafplaas, aan te wys, aangesien die Houtkerk se grafkelders en kerkhof reeds vol was. Die plan was om eers net ’n muur om die terrein op te rig sodat dit as begraafplaas gebruik kon word, terwyl die kerk eers later gebou sou word.
Op 16 Desember 1677 het Kommandeur Johan Bax en sy Raad die grond amptelik uitgewys. Ironies genoeg is die predikant, Petrus Hulsenaar, dieselfde dag oorlede. Reeds die volgende middag, 17 Desember 1677, is hy as die eerste persoon op die nuwe terrein begrawe— reg in die middel, presies waar die kerk later gebou sou word, is hy ter ruste gelê.
Daar is vir my ’n poëtiese troos by die gedagte— ’n kerk wat as ’t ware later sy grafsteen geword het en daagliks getuienis gelewer het van sy lewenswerk en roeping. Soos dit ook behoort te wees vir elke ander mens wat daar begrawe is.
Later is die oorskot van diegene wat in die Houtkerk se grafkelder en die kerkhof buite die kerk begrawe was, opgegrawe en in ’n gemeenskaplike graf op die nuwe terrein herbegrawe. ’n Jaar later het Kommandeur Bax en lede van die Politieke Raad die hoekstene van die nuwe kruiskerk gelê. Dit het egter nog 23 jaar geneem voordat bouwerk regtig momentum sou kry. Eers op 28 Desember 1700 lê Goewerneur W.A. van der Stel en sy Raad die eerste stene van die kerk.
Die projek is met groot entoesiasme aangepak—lidmate, slawe, werkers, amptenare en die owerheid het saamgewerk en teen die einde van 1702 was die bouwerk amper voltooi. Die toring is in 1703 bygevoeg. ’n Pragtige preekstoel is ook gemaak.
Die reisiger ds. Francois Valentyn beskryf die kerk as “’n baie mooi gebou”. Volgens ds. H.C. Hopkins in sy werk Die Moeder van ons Almal het die kerk nie die gewone kruisvorm gehad nie. Die vier arms van die Griekse kruis is deur skuins mure verbind, wat oop hoeke ingevul het. Dit was wel ’n tipiese 17de-eeuse kerk—sentraal ontwerp rondom die kansel. Elke verbindingsmuur het twee reuse vensters gehad, tussen ses en nege meter hoog.
Die kerk is op 6 Januarie 1704 met groot seremonie ingewy.
Aanvanklik het die kerk nie ’n orrel of konsistorie gehad nie. Daar is eers in 1737 ’n orrel aangeskaf—aangekoop van Goewerneur Jan de la Fontaine. Ons kan aanneem dat hy toe, aan die einde van sy ampstermyn in 1737, nie met die orrel wou reis nie. Dié orrel het tot 1853 gehou en moes toe vervang word. Die konsistorie is in 1744/45 gebou.
Terwyl die kerk nog in aanbou was, is die vervalle kerkhof herstel en ’n nuwe muur deur Abraham Hartog opgerig. Binne die kerk is ruimte gemaak vir sowat 180 grafkelders, elk genommer, plus ’n aantal ongenommerde grafte. Aan weerskante van die preekstoel was daar ses kelders, en voor die kansel het rye van 15 kelders gestrek tot by die orrel. Sommige kelders het weer plek gehad vir tot nege kiste. Hierdie kelders is te koop of te huur aangebied en prominente inwoners is hier ter ruste gelê. Onder hulle tel goewerneurs soos Simon van der Stel, Louis van Assenburgh, en Ryk Tulbagh.
Teen die middel van die 18de eeu het die kerk te klein geraak. Galerye is bygevoeg, en in 1779 is die kerk verder vergroot deur die vier hoeke uit te bou. So het die gebou ’n vierkantige vorm gekry, maar die skuins dakstruktuur van die oorspronklike kruisontwerp is behou.
In dieselfde jaar word die ou preekstoel vervang met die meesterstuk van Anton Anreith—die bekende preekstoel wat vandag nog in gebruik is. Ongelukkig het die plat dakke van die nuwe hoek-uitbreidings groot probleme gegee. Water het ingelek en herstelwerk was duur. Teen 1835 het die gebou se toestand ernstige kommer veroorsaak. Boumeester Hermann Schutte en timmerman L.F. Anhuyser is genader. Hulle het aanbeveel dat die dak vervang word en wys op die nat fondamente—veral weens water wat in die grafkelders opgegaar en gestaan het.
Die kerkraad het gehuiwer oor die koste, maar laat wel die dak stut—dit stel egter niemand gerus nie. Weer word die struktuur ondersoek en die gevolgtrekking is dat om die kerk te sloop, die enigste uitweg is. Die kerk is toe ontruim en dienste is tydelik in die Lutherse Kerk gehou.
’n Hewige stryd het in die gemeente tussen voorstanders en teenstanders teen die sloop van die kerk uitgebars. Uiteindelik gryp die regering in en laat luitenant-kolonel Robert Thompson van die Royal Engineers die situasie beoordeel. Sy bevinding: die dak is te gevaarlik. ’n Plan vir ’n nuwe gebou word opgestel, en terwyl die pragtige Anreith-preekstoel sorgvuldig toegebou word vir beskerming, begin die sloping.
Schutte ontdek egter dat die ou fondamente te swak is. Alles, behalwe die toring, die toegeboude preekstoel en die konsistorie word gesloop. ’n Groter kerk verrys, met ’n unieke Grieks-Gotiese styl en ’n indrukwekkende plafon. Ongelukkig is die grafkelders in die proses opgevul en baie van die oorspronklike grafstene het verlore gegaan.
Op 31 Januarie 1841 word die nuwe kerk met groot vreugde ingewy en sedertdien het min aan die gebou verander.
Eva van die Kaap het uiteindelik haar rusplek gevind — nie in die onstuimigheid van haar kort lewe nie, maar in die grond van ’n area waarvan sy self ’n simbool geword het van die Kaap se volle geskiedenis. Haar plek was uiteindelik tussen ander, wat soos sy, ’n stempel op hierdie land se storie afgedruk het. Haar graf, tussen dié van ander gesiene figure van haar tyd — goewerneurs, predikante en gemeenskapsleiers — getuig van ’n tyd toe onderskeid geen rol kon speel uit persoonlike gevoelens nie. Tydens die groot herbegrafnis, toe kelders oopgemaak en die oorskot na die nuwe kerkperseel verskuif is, het niemand gevra wie uit watter bloed of kleur kom nie. Die in dood het saam gaan rus.
Vir my lê daar ’n eenvoudige, dog diep troos in die wete dat Eva — wat haarself tot die Christelike geloof gewend het, wát haar redes ook al was — deel geword het van die fondasie van hierdie heilige ruimte. ’n Kerk wat tot vandag op die bene van die geskiedenis self staan.
Dit is hoe dit gelos moet word — een met hierdie aarde van die Moederstad. Hier rus sy nie as ’n vrou van tussenin nie, maar as deel van die storie self. En dáárin lê die ware eer.
Afhangende van jou oortuiging, sal jy haar vind in die hart van die Groote Kerk se tuin, waar haar rustigheid as deel van die kerkgeskiedenis nie net aan haar nie, maar ook aan die veranderinge wat haar insig en keuses gebring het, herinner. Of dalk sal jy haar vind op ’n houtbankie in die Kasteel.
Waar dit ook al vir jou is, moet dit gesien word as ‘n plek waar drome, lyding en hoop oor eeue saamgeweef is in ‘n warm wolkombers, een wat die storms wat teen ons eie mure vasslaan, kan afweer.
Baie intresant en leersaam